1 October 2021

Meer as 400 000 ha het die afgelope twee maande in die Noord-Kaap afgebrand.
Ekapa Mining en GWK het meer as R2 miljoen bewillig wat Agri Noord-Kaap deur sy stigting gaan gebruik om boere by te staan wat onlangs ernstige skade gely het in verwoestende veldbrande in die oostelike Noord-Kaap en die Wes-Vrystaat.
In dié brande is 144 000 ha by Schmidtsdrift, Campbell, Douglas, Kimberley, Magersfontein en Jacobsdal verwoes. Die afgelope twee maande is meer as 440 000 ha in die Noord-Kaap afgebrand. Groot vee- en wildverliese is aangemeld.

Tydens die brande het boere, plaaswerkers, dorpenaars en besighede soos GWK en Ekapa saamgestaan om brande te beveg en kos en water en brandstof te voorsien.

Mnre. Neil de Klerk, uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie by GWK, en Jahn Hohne, uitvoerende hoof van die Ekapa-mynmaatskappy, het in ooreenstemming met GWK se Net een druppel-veldtog besluit om saam hulp te verleen aan boere in afgebrande gebiede. Die Net een druppel-veldtog staan boere in droogtegeteisterde gebiede by.

“Ekapa as ’n maatskappy en die Hohne-familie is bekend daarvoor dat hulle vir die natuurlewe en mense omgee. Ekapa en GWK is ernstig oor hul verantwoordelikhede teenoor gemeenskappe en die omgewing,” sê De Klerk.

Hohne het van die afgebrande plase besoek en is diep getref deur die nagevolge op mense, veekuddes en wild. “Ons moet help om die grootskaalse vernietiging op te ruim. Ek het op die verskroeide aarde gestaan en verwilderde diere gesien wat nie weet waar hul kos vandaan kom nie,” sê Hohne.

Mnr. Llewellyn Brooks, besturende direkteur van GWK, sê die maatskappy was altyd geseën deur boere se ondersteuning en nou wil die maatskappy boere help. “Die boere en gemeenskappe wat saam teen die vlamme geveg het, inspireer ’n mens. Ons versoek ons vennote, verskaffers, finansiële  instellings en die sakesektor om Agri Noord-Kaap te ondersteun en betrokke te raak.”

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê hulle sal die projekte in werking stel deur die Agri Noord Kaap Stigting, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat geld vir rampverligting insamel.

Om betrokke te raak, besoek Agri Noord-Kaap se webwerf of Facebook-blad.

Source

BPC REPORT 4: 1.2.0 Free 19/04/2024 08:55:43 Active Has SSL Checklist Table Built